BreytenbachsBreytenbachs

English|Afrikaans
info@breytenbachs.com
Tue, 6/1/2009

Nuus

Universiteite lewer petisie oor nuwe studente visum reëls - 11/12/2008

Die BBC het berig dat akademici en studente 'n petisie gegee het aan die Britse regering waarin hulle vra dat nuwe immigrasie reëls vir oorsese studente in die VK heroorweeg word. Akademici is veral ongelukkig omdat daar van hul verwag gaan word om studente te rapporteer wat nie klasse bywoon nie, aangesien hulle voel dat daar van hulle verwag word om die rol van immigrasie-beamptes te vertolk.

Vanaf Maart 2009, sal daar van universiteite verwag word om borgskap-lisensies te hê om oorsese studente van buite die EU plekke aan te bied by die instansies. Daar sal ook van lektore verwag word om die bywoning van die oorsese studente te monitor en oorsese studente te rapporteer indien hulle nie klasse bywoon nie.

Die Britse regering het reageer deur te sê dat die universiteite 'n plig het om na hul oorsese studente om te sien en dat die monitering van die bywoon van klasse deel is van die verantwoordelikheid. Verder is ook gesê dat aangesien universiteite finansieël voordeel trek uit oorsese studente, hulle 'n sekere mate van verantwoordelikheid vir hulle moet dra.

Toegewing gemaak vir trou visums  - 10/12/2008

Die Britse regering het die ouderdom waarop iemand 'n trou visum kan kry verhoog van 18 jaar na 21 jaar oud, sedert 27 November 2008.  Sedert hierdie datum, moet beide partye tot die huwelik 21 jaar oud wees. Die stap is geneem om die verskynsel van huwelike wat onder dwang plaasvind te voorkom, sowel as die misbruik van die migrasie roete.

Daar is egter nou aangekondig dat as 'n toegewing, die ouderdom van 18 jaar steeds sal geld vir partye tot die huwelik, waar die borg se immigrasie-status gekoppel is aan 'n beperking op die periode waarvoor die visum toegeken is. Dit is byvoorbeeld in die geval van 'n persoon met 'n studente visum of die houer van 'n werkspermit.

Toename in belangstelling onder potensiële huiskopers - 10/12/2008

Die BBC het aangekondig dat die 'Royal Institution of Chartered Surveyors' (Rics) gesê het dat die belangstelling onder potensiële kopers vir die sewende maand in 'n ry toegeneem het. Volgens Rics kan die verskynsel toegeskryf word aan die daling in rentekoers, sowel as die daling in die prys van eiendomme.

Migrante moet reg tot verblyf verdien -  09/12/2008

Die Britse regering het aangekondig dat 'n nuwe wetsontwerp 'Borders, Immigration and Citizenship' sal verseker dat nuwe migrante in die VK hul reg tot verblyf sal verdien.

Die nuwe roete tot burgerskap sal verseker dat die pad tot burgerskap verleng word vir migrante wat nie 'n poging aanwend om te integreer nie of wat geringe kriminele oortredings begaan.

Die BBC het berig dat die Minister van Immigrasie, Phil Woolas, gesê het dat die nuwe reëls sal beteken dat ekonomiese migrante eers vyf jaar as tydelike inwoners beskou sal word, alvorens hulle burgers onderhewig aan 'n proeftydperk sal word. Vir hulle om dan volle burgerskap te verkry, sal hulle moet bewys dat hulle gwerk het, belasting betaal het, 'n redelike vlak van Engels magtig is en aan alle reëls voldoen het. Migrante wat addissionele bydraes gelewer het, soos vrywillige gemeenskapsdiens, sal burgerskap kan verkry binne 'n jaar, maar die norm sal twee tot drie jaar wees.

Migrante wat geringe kriminele oortredings begaan het, sal 'n vyf jaar moet wag.

Daar is ook aangekondig dat ekonomiese migrante tot tien jaar sal moet wag in die toekoms alvorens hulle voordele van die staat sal kan eis. Huidiglik, kan ekonomiese migrante van buite die EU, normaalweg, die voordele eis binne vyf jaar.

Bank van Engeland sny rentekoerse tot laagste vlak in 57 jaar  - 05/12/2008

Die Bank van Engeland het rentekoerse gesny met een persentasie punt, wat die nuwe rentekoers te staan bring op 2%. Dit is die laagste rentekoers vlak sedert 1957.

Die BBC het berig dat Gordon Brown, 'n beroep gedoen het op leners om die nuwe rentekoers deur te gee aan verbandleners en besighede. Ontleders het die stap verlaging verwelkom en gesê dit sal help om die Britse ekonomie 'n hupstoot te gee.

Nuwe plan vir verbandlenings bekend gestel - 04/12/2008

Die BBC het berig dat Gordon Brown 'n plan bekend gestel het wat mense sal help om die rente-betalings op hul verbandlenings uit te stel met tot twee jaar. Die doel agter die plan is om beslagleggings op eiendomme te verminder, wat veroorsaak word deur die verswakkende Britse ekonomie.

Die plan is aangekondig om mense te help wat hul werk verloor het of wat 'n groot daling in hul inkomste beleef het en daarom die beslaglegging op hul eiendom in die gesig staar. Die skema sal na verwagting verbande van tot £400,000 dek. Agt van die grootste verbandleners het reeds aangedui dat hulle sal deelneem aan die plan wat vroeg in 2009 in werking sal tree.

Brittanje se BTW koers gensy met 2,5% - 01/12/2008

Die Britse regering het Brittanje se BTW koers gesny met 2,5%, wat die bestaande BTW-koers afbring na 15%. Die BTW-koers sal op die vlak bly tot 2010, wanneer dit weer verhoog sal word na 17,5%. 

Eerste ID kaarte uitgereik - 27/11/2008

Sedert 27 November 2008 word oorsese burgers wat aansoek doen om hul verblyf in die VK te verleng, as student of op grond van 'n huwelik, uitgereik met 'n identiteitskaart. Die kaarte word uitgereik met 'n digitale foto en vingerafdrukke en het ten doel om die regering te help om onwettige immigrasie en identiteits-bedrog te voorkom.

Daar word verwag dat alle nuwe oorsese burgers en die wat hul verblyf verleng, uitgereik sal word met 'n ID kaart binne 3 jaar en dat teen die einde van 2014/15 alle oorsese burgers in die VK met so 'n kaart uitgereik sal wees. 

Vlak 2 en 5 van die Punte-gebaseerde stelsel in werking gestel - 27/11/2008

Vlakke 2 en 5 van die nuwe punte-gebaseerde immigrasie-stelsel is in werking gestel op 27 November 2008. Dit het in die proses 'n hele aantal skema's vervang; soos die ou weergawe van werkspermitte, die TWES-skema, die twee-jaar werksvakansie visum ens.

Die nuwe vlakke 2 en 5 bied egter 'n paar baie opwindende geleenthede vir persone wat graag in die VK wil woon en werk. Kontak gerus ons kantore vir meer inligting of voltooi een van ons aanlyn-vorms of uit te vind vir watter tipe permit of visum jy kan kwalifiseer.

Burgermeester van Londen oorweeg amnestie vir onwettige immigrante  - 23/11/2008

Die BBC het berig dat die burgermeester van Londen, Boris Johnson, 'n studie wil onderneem om te kyk na 'n moontlike amnestie vir onwettige immigrante in Londen. Daar word geskat dat sowat 400,000 van die geskatte 700,000 onwettige immigrante in Brittanje, woonagtig is in Londen.

Volgens Johnson, gaan dit feitlik onmoontlik wees om die onwettige immigrante te deporteer en dat 'n amnestie aan lang-termyn immigrante die inkomste uit belasting merkwaardig kan verhoog. Om die rede wil hy 'n studie onderneem oor die moontlikheid van so 'n amnestie.

Die Minister van Immigrasie het gesê dat die voorstel naiëf is.

Netto Immigrasie na die VK styg in 2007 - 20/11/2008

Syfers van die Kantoor vir Nasionale Statistiek in Brittanje toon dat netto immigrasie na die VK toegeneem het tot 237,000 vir die jaar 2007. Dit is 46,000 meer as vir die jaar 2006.

Die BBC het berig da die Britse Minister van Immigrasie, Phillip Woolas, gesê het dat die tendens is dat al hoe minder Britte Brittanje verlaat om elders te gaan woon. Hy het ook gesê dat die nuwe punte-gebaseerde immigrasie-stelsel hulle in staat gaan stel om immigrasie na die VK beter te beheer.

Vyftien persent van visums word jaarliks verkeerdelik uitgereik - 19/11/2008

Die BBC het berig dat die onafhanklike visum monitor, 'n komitee van die 'Home Affairs' meegedeel het dat daar redelikerwys aangeneem kan word dat sowat 15% van kort-termyn visums verkeerdelik toegeken word. Sy het verder gesê dat amptenare onder druk is om visums uit te reik, om produktiwiteits-doelwitte te bereik.

Skynbaar word aansoeke wat afgekeur word, nagegaan vir akkuraatheid, maar daar is nie 'n soortgelyke skema in plek om aansoeke na te gaan wat goedgekeur is nie.

Die Britse 'Border Agency' het gereageer op haar stellings deur te sê dat hul besluite regverdig en objektief is, en dat die liggaam die, 'Independent Monitor', verlede jaar bevind het dat hulle reg en regverdige besluite geneem het in 99% van die gevalle.

Visum vir afgetrede, onafhanklike persone word geskrap - 14/11/2008

Die Britse regering het aangekondig dat hul die visum vir onafhanklike, afgetrede persone gaan skrap op 27 November 2008.

Die besluit is deel van die Britse regering se hersiening van bestaande immigrasie-reëls. Skynbaar het daar baie min mense aansoek gedoen vir die tipe visum - slegs sowat 20 aansoeke per jaar. Daar is ook gevoel dat die tipe migrante in die toekoms dalk druk kan plaas op openbare dienste in Brittanje.

Aansoeke wat gemaak word vir die tipe visum voor 27 November 2008, sal onder bestaande reëls oorweeg word. Migrante wat reeds in die VK is met die tipe visum of wat reeds die visum gekry het, maar nog moet aansoek doen vir toestemming om die VK binne te kom of permanente verblyf, kan dit doen ingevolge oorgansmaatreëls.

Kontak gerus ons kantore vir verdere inligting.

Ergste daling in die huismark dalk verby - 12/11/2008

Die BBC het berig dat 'n woordvoerder van die 'Royal Institution of Chartered Surveyors' (Rics) gesê het dat die besluit deur die Bank van Engeland om rentekoerse te verlaag na 3% die verkope in die Britse eiendomsmark 'n hupstoot kan gee. Die gebrek aan finansiering vir verbande bly egter steeds 'n probleem.

Volgens Rics kan die ergste probleme in die eiendomsmark nou iets van die verlede wees, en 20% van sy lede glo dat verkope weer sal styg teen die einde van 2008. Volgens Rics is die groeiende optimisme te danke aan die feit dat al hoe meer verkopers bereid is om hul pryse te laat daal tot meer realistiese vlakke.

Beroepstekortlys vir Vlak 2 gepubliseer - 12/11/2008

Die Britse regering het die beroepstekortlys gepubliseer wat gebruik gaan word as deel van Vlak 2 (Geskoolde Werkers) van die nuwe punte-gebaseerde stelsel, wat op 27 November 2008 geloods word. Die lys sluit 100,000 sosiale werkers in, 'n beroep wat voorheen nie deur die 'Migration Adivsory Committee' gereken was as 'n beroep waarin tekorte beleef word nie.

Die hoeveelheid beroepe op die lys is verminder van net oor 'n miljoen na net onder 800,000 om te verseker dat slegs oorsese burgers na die VK kan gaan, via die roete wat, werklik nodig is in die Britse arbeidsmark.

Die implikasie van 'n beroep wat op die beroepstekortlys is, is dat die werkgewer nie die pos hoef te adverteer om eers te kyk of daar nie 'n Britse of EU-burger is wat dalk die pos kan vul nie.

Kontak gerus ons kantore vir meer inligting.

Bank van Engeland sny rentekoerse - 10/11/2008

Die Bank van Engeland het sy rentekoers gensy van 4,5% na 3%. Die Britse Eerste Minister, Gordon Brown, het in reaksie hierop die Britse banke gevra om die verlaging deur te gee aan leners.

Die BBC het berig dat die vernaamste verbandleners begin het om te reageer op die versoek. Nationwide, HBOS, die RBS/Natwest groep en Northern Rock het almal aangekondig dat hul, hul rentoekoerse met 1,5% sal verlaag met ingang van 1 Desember. Ander leners soos Loyds TSB en Abbey het soortgelyke stappe aangekondig.

Besonderhede oor die nuwe Jeug Mobiliteit-skema aangekondig - 06/11/2008

Die Britse regering het sy riglyne vir die nuwe Vlak 5 Jeug Mobiliteit-skema aangekondig, wat die gewilde twee-jaar werksvakansie visum vervang op 27 November 2008.

Ongelukkig sal burgers van lande soos Namibië en Suid-Afrika nie kan deelneem aan die nuwe skema nie. Slegs burgers van Australië, Kanada, Japan en Nieu-Zealand mag deelneem aan die nuwe skema.

Kontak gerus ons kantore vir meer inligting.

Trou visum se ouderdom verhoog - 05/11/2008

Die Britse regering het aangekondig dat die ouderdom waarop iemand 'n trou visum kan bekom verhoog gaan word van 18 na 21 jaar oud. Die stap is geneem om gereëlde huwelike te verhoed, asook misbruik van die tipe migrasie roete.

Die verandering gaan in werking tree op 27 November 2008 en van hierdie datum, sal beide partye in die voorgenome huwelik 21 jaar oud moet wees, alvorens 'n visum uitgereik sal word.

Dit sal ook beteken dat iemand vanaf hierdie datum, nie meer sal kan aansoek doen vir 'n eggenote visum of afhanklikheids visum, indien daar 'n troue betrokke is en een van die partye jonger as 21 jaar oud is nie.

Nuwe Besigheid en Spesiale Besoeker visum reëls aangekondig  - 05/11/2008

Die Britse regering het aangekondig dat vanaf 27 November 2008, daar nuwe reëls in plek gaan wees vir persone wat na die VK gaan om besigheid te doen of wat wil deelneem in sport of kreatiewe geleenthede - sodanige persone sal vanaf die datum na die VK moet reis as besigheid, sport of vermaaklikheids-besoekers.

Persone wat toegang tot die VK wil hê as kinder besoekers, studente besoekers, die ouers van 'n kind op skool, trou-besoekers, voornemende studente, besoekers in transito of besoekers vir private mediese behandeling sal steeds kan aansoek doen in die kategorie wat kollektief bekend staan as spesiale besoekers.

Daar is ook aangekondig dat die reëlings vir kort-termyn algemene besoeke na die VK hersien gaan word en dat aankondigings in die verband gemaak sal word vroeg in 2009.

Plan van implementering vir Vlak 4 - Studente gepubliseer  - 03/11/2008

Die Britse regering het aangekondig dat hul gaan begin om Vlak 4 vir Studente te implementeer in Maart 2009.

Die nuwe sisteem het ten doel om misbruik van die sisteem te bekamp en van Maart 2009 sal die volgende maatreëls in plek gestel word;

  • Alle kolleges en universiteite wat oorsese studente wil werf moet 'n borgskap lisensie verkry;

  • Elke student gaan 'n gelisensieerde borg benodig; en

  • Strenger reëls gaan in plek gestel word om die Britse arbeidsmark te beskerm.

Vanaf Herfs 2009 sal die sisteem nog strenger gemaak word met die bekendstelling van tegnologie wat die makliker sal maak vir opvoedkundige instansies om die Britse 'Border Agency' in kennis te stel as studente nie opdaag nie, of vir meer as 10 klasse afwesig is.

Kontak gerus ons kantore vir meer inligting.

Bestaande Werkspermit-skema eindig op 26 November 2008 - 29/10/2008

Die Britse regering het onverwags die implementering van die nuwe Vlak 2 bespoedig. Die aankondiging is gemaak op Dinsdag-middag, 28 Oktober 2008, dat die bestaande Werkspermit-skema sal verval op 26 November 2008 en vervang sal word met die nuwe Vlak 2 op 27 November 2008.

Neem daarom asseblief kennis dat Breytenbachs nie enige aansoeke vir werkgewers kan indien, om nie-EU burgers in diens te neem onder die reëls van die bestaande skema, later as 25 November 2008 nie. Die aansoeke moet die 'Home Office' op die laaste bereik op Woensdag, 26 November 2008. Breytenbachs benodig dus alle toepaslike inligting vir die aansoek, teen niks later as 17 November 2008 nie.

Dit beteken dat die laaste dag vir die plasing van werkspermit advertensies 28 Oktober 2008 was, ingevolge die huidige werkspermit-skema. Waar advertensies betrokke is, kan Breytenbachs nie 'n aansoek vir 'n werkspermit indien, alvorens die advertensie 28 dae oud is nie. Die periode word bereken van die eerste dag wat die advertensie in die media verskyn.

Die firma kan geen verantwoordelikheid neem vir aansoeke, indien ons nie betyds geskrewe instruksies kry om voort te gaan met 'n aansoek nie. Indien daar dus enige onduidelikheid of onsekerheid bestaan oor jou situasie, moet jy asseblief overwyld met Breytenbachs in aanraking tree.

Neem ook asseblief kennis, dat indien jy te laat is om jou aansoek in te dien ingevolge die huidige Werkspermit-skema, ons jou van hulp sal kan wees met die nuwe Vlak 2 aansoeke, vanaf 27 November 2008. Breytenbachs het ook 'n afdeling wat uitsluitlik werk met Borgskap-lisensies. Hierdie departement is reeds sedert September 2008 operasioneel. Kontak ons gerus vir enige verdere inligting in die verband.

Tyd raak min om aansoek te doen vir die Twee-jaar Werksvakansie visum  - 29/10/2008

Die Britse regering het onverwags die implementering van die nuwe Vlak 5, Jeug-Mobiliteit skema bespoedig. Die aankondiging is gemaak op Dinsdag-middag, 28 Oktober 2008, dat die bestaande Twee-jaar Werksvakansie Visum sal verval op 26 November 2008 en vervang sal word met die nuwe Vlak 5, Jeug-Mobiliteit skema op 27 November 2008.

Die nuwe skema sal werk op die beginsel van balans. Burgers van deelnemende lande sal toegelaat word om in die VK te kom woon en werk vir twee jaar, mits jong Britse burgers dieselfde voordeel kan geniet in die deelnemende land. Die Britse regering sal elke jaar 'n lys van lande publiseer wat kwalifiseer vir die skema, tesame met die hoeveelheid plekke op die skema wat aan elke land toegeken word.

Huidiglik, lyk dit hoogs onwaarskynlik dat lande soos Suid-Afrika deel sal uitmaak van die eerste rondte van die nuwe skema. Persone wat dus wil aansoek doen vir die twee-jaar werksvakansie visum, voordat dit vervang word, moet ons kantore onverwyld skakel.

Persone wat wel in die besit is van 'n twee-jaar werksvakansie visum, wanneer die nuwe jeug mobiliteit skema in werking tree, sal nie geaffekteer word nie. Hulle sal toegelaat word om die tyd op hul visum te voltooi onder die bestaande reëls van die twee-jaar werksvakansie visum.

Indien jy belangstel om aansoek te doen vir die twee-jaar werksvakansie visum, moet jy asseblief ons kantore dringend kontak.

Potensiële huiskopers wag vir verbandlenings-mark om te verbeter - 17/10/2008

Volgens die tydskrif, Money Marketing, kan daar soveel as 380,000 potensiële huiseienaars wees wat wag vir die verbandlenings-mark om te herstel.

Die tydskrif het berig dat Legal & General gesê het dat die opgekropte vraag na verbande aan die styg is en dat die gemiddelde huisprys meer as verdubbel het sedert 2000. Volgens die direkteru van verbande, het 'n groot hoeveelheid mense die koop van 'n huis uitgestel, aanvanklik weens bekostigbaarheid, maar nou meesal omdat hulle wag vir pryse om verder te daal en die hoop dat rentekoerse en die kriteria waarvolgens uitgeleen word, sal verbeter.

Volgens Legal & General verwag hulle dat die opgekropte vraag vinnig sal omsit in aksie, wanneer meer verbandleners weer toetree tot die mark met nuwe produkte.

Borgskap lisensies - Gouer is beter as later - 15/10/2008

Die Britse regering se waarborg ingevolge waarvan hul 'n borgskap lisensie kon goedkeur teen 30 November het nou verval. Nou moet alle werkgewers tou staan om hul borgskap lisensie goedgekeur te kry.

'n Baie klein hoeveelheid werkgewers in die VK het hul aansoeke ingedien teen die afsnydatum van 1 Oktober 2008, wat beteken die agterstand by die 'Home Office' in die komende maande kan baie hoog wees. Breytenbachs kom agter dat baie werkgewers nou eers die werklikheid van die situasie besef en ook besef dat werkspermitte nie langer die roete is wat gevolg kan word nie - daar is slegs enkele dae oor waarin aansoeke vir werkspermitte ingevolge die huidige stelsel ingedien kan word.

Breytenbachs, in vennootskap met ComplySoft, is egter daar om vir jou firma die nodige ondersteuning te lewer op 'n tegnologiese vlak. Ons kan jou aansoek vir 'n borgskap lisensie verwerk - vinnig, koste-effektief en sonder onnodige beslommernis van jou kant.

Die bonus vir jou firma is bestuursinligting wat jy beskikbaar het oor die profiel van jou werknemers, teen dieselfde prys as slegs die aansoek. Die proses wat gebruik word vir die aansoek van die lisensie is die eerste stap om te voldoen aan die nuwe 'Home Office' regulasies. Die opvolgende voldoening aan die maatreëls is 'n oplossing wat ons aan jou bied, sodra die aansoek goedgekeur is.

Ons beveel aan dat firma's ons so gou as moontlik kontak om aansoek te doen vir hul borgskap lisensies, en daardeur die risiko te voorkom dat jou bestaande migrant werkers na hul land van herkoms moet terugkeer, weens die moontlikheid van nie-nakoming van die nuwe reëls.

Tyd raak min om aansoek te doen vir die Twee-jaar Werksvakansie visum  - 15/10/2008

Die nuwe Jeug Mobiliteit Skema sal die bestaande Twee-jaar werksvakansie visum vervang wanneer dit geïmplementeer word in November 2008.

Die nuwe skema sal werk op die beginsel van balans. Burgers van deelnemende lande sal toegelaat word om in die VK te kom woon en werk vir twee jaar, mits jong Britse burgers dieselfde voordeel kan geniet in die deelnemende land. Die Britse regering sal elke jaar 'n lys van lande publiseer wat kwalifiseer vir die skema, tesame met die hoeveelheid plekke op die skema wat aan elke land toegeken word.

Huidiglik, lyk dit hoogs onwaarskynlik dat lande soos Suid-Afrika deel sal uitmaak van die eerste rondte van die nuwe skema. Persone wat dus wil aansoek doen vir die twee-jaar werksvakansie visum, voordat dit vervang word, moet ons kantore onverwyld skakel.

Persone wat wel in die besit is van 'n twee-jaar werksvakansie visum, wanneer die nuwe jeug mobiliteit skema in werking tree, sal nie geaffekteer word nie. Hulle sal toegelaat word om die tyd op hul visum te voltooi onder die bestaande reëls van die twee-jaar werksvakansie visum.

Indien jy belangstel om aansoek te doen vir die twee-jaar werksvakansie visum, moet jy asseblief ons kantore dringend kontak.

Britse huispryse daal verder - 09/10/2008

Die BBC het berig dat Halifax 'n 1,3% daling in huispryse geregistreer het, gedurende September 2008.

Volgens Halifax is die jaarlikse daling in huispryse nou 12,4%, met die gemiddelde koste van 'n huis in die omgewing van £172,000. Halifax stem egter saam met Nationwide dat dit lyk of die koers van daling in huispryse besig is om te stabiliseer.

Die hoof-ekonoom by Halifax het gesê dat die volgehou druk op huishoudings se inkomste, gekombineer met die daling in die beskikbaarheid van finansiering vir verbande beteken dat die mark vir nog 'n hele ruk voor 'n uitdaging te staan sal kom. Hy het nietemin die daling in die rentekoers verwelkom en gesê dat dit 'n welkome ondersteuning sal bied aan die huismark.

Britse banke sny rentekoerse - 08/10/2008

Die BBC het berig dat ses sentrale banke in die VK, insluitende die Bank van Engeland hul rentekoerse gesny het met 'n halwe persentasie-punt. Die rentekoers daling plaas nou die Britse rentkoers op 4,5%.

Die aankondiging deur die Bank van Engeland om hul rentekoerse te sny na 'n spesiale vergadering, het gekom in die lig van die feit dat die Britse regering planne bekend gemaak het van 'n £50 biljoen reddingsplan vir die banke. Ontleders het die stap verwelkom en gesê dit sal hopelik die vertroue in die Britse ekonomie bevorder.

Lae deposito verbande al minder beskikbaar  - 07/10/2008

Die BBC het berig dat die hoeveelheid verbande wat beskikbaar is aan kopers met 'n 5% deposito besig is om vinnig te verminder. Dit is weens die feit lenings gesny word, weens die druk op die ekonomie en dalende huispryse.

Sowat 'n jaar gelede was daar ongeveer 860 sulke pakkette beskikbaar, nou word berig dat daar slegs sowat 60 sulke pakkette beskikbaar is op die mark. Verbandlenings vir 100% of meer van die waarde van 'n eiendom het heeltemal verdwyn aan die begin van 2008.

Diegene met 'n 95% lening vind ook dat hul rentekoers sowat 7% of meer is, wat baie hoër is as die koste van ander verbandlenings met hoër deposito's, wat geprys word teen 6% of minder.

Britse Identiteitskaart bekend gestel  - 26/09/2008

Die Britse Regering het sy nuwe identiteitskaart vir oorsese burgers bekend gestel.

Die verpligte identiteitskaart vir oorsese burgers is deel van die Nasionale Identiteit-skema en die eerste aansoekers sal moet aansoek doen vir die kaart vanaf 25 November 2008. Die Britse Regering sal die kaart uitreik aan twee kategorieë wat veral gereken word as hoë risiko vir misbruik - studente en persone wat aansoek doen vir verdere verblyf op grond van 'n huwelik.

Die nuwe kaart sal die houer daarvan se foto toon, naam, datum van geboorte, nasionaliteit asook immigrasie status. 'n Elektroniese chip sal ook biometriese data bevat, insluitende vingerafdruke en 'n digitale foto.

Vlakke van immigrasie verhoog bevolkingsdigtheid in Engeland - 16/09/2008

Die BBC het berig dat immigrasie vlakke die bevolkingsdigtheid in Engeland hoër laat styg het as die van ander groot sentra in Europa.

Volgens syfers van die Kantoor vir Nasionale Statistiek, is daar gemiddeld 395 persone per vierkante kilometer in Engeland. Dit is 'n toename van 5 persone per vierkante kilometer oor die afgelope twee jaar. In die VK is daar gemiddeld 253 persone per vierkante kilometer, maar die bevolkingsdigtheid is baie laer in Skotland, Wallis en Noord-Ierland.

Die BBC het berig dat Sir Andrew Green van 'Migration Watch UK' gesê het dat die syfers 'n oproep is om wakker te word. Ander kritici het 'n beroep gedoen vir 'n meer gebalanseerde uitkyk op immigrasie, waar die hoeveelheid mense wat toegelaat word om hulleself in die VK te vestig gelyk is aan die hoeveelheid wat die land verlaat.

Streng nuwe beroepstekortlys  - 08/09/2008

'n Voorgestelde nuwe lys van beroepe vir die beroepstekortlys is voorgelê aan die Britse regering deur onafhanklike adviseurs van die 'Migration Advisory Committee' (MAC).

Die voorgestelde lys sal 'n meer buigbare benadering en meer kategorieë teweeg bring, maar die hoeveelheid individuele posisies wat beskikbaar is aan migrante sal daal met 30 persent. Dit verminder die hoeveelheid beskikbare werksgeleenthede vir migrante, via die roete, van een miljoen na 700,000.

Die Britse regering sal nou die voorstelle ontvang deur die MAC toets, alvorens hulle die finale lys publiseer in Oktober 2008. Dit sal dus wees net voor die Vlak 2 vir Geskoolde werkers van die nuwe punte gebaseerde sisteem in werking tree in November 2008.

Kontak gerus ons kantore vir meer inligting.

Immigrante moet huistoe gestuur word na vier jaar, sê verslag - 07/09/2008

Die Guardian koerant het berig dat 'n studie wat gedoen is, met twee voormalige Arbeids- en Torie minister aan die stuur, 'n beroep gedoen het op die Britse regering om die hoeveelheid migrante wat die land binnekom te balanseer met die hoeveelheid wat die land verlaat.

Die kontroversiële verslag wil hê dat geskoolde migrante van butie die Europese Unie huistoe gestuur word nadat hul vier-jaar visums verval het. Sodoende wil hul die bevolkingsgroei van die VK in toom hou en die las op die openbare dienste verlig. Volgens 'n model wat ontwikkel is in die studie, sal die enigste kans wat 'n migrant het om langer as die tydperk te bly waarvoor die visum toegeken is wees om te bewys dat hy/sy uitsonderlike intellektuele, wetenskaplike of artistieke meriete het. Dit moet dan ook nie die jaarlikse kwota van 20,000 oorskry nie - wat dan ook afhanklikes insluit.

'n Woordvoerder van die 'Joint Council for the Welfare of Immigrants' het gesê dat die voorstelle geheel en al die positiewe bydrae van migrante tot die lewe in die VK ignoreer.

Die Minister van Immigrasie, Liam Byrne, het in sy reaksie gesê dat beperkings en kwota's nie die antwoord is nie en dat die nuwe punte gebaseerde immigrasie-stelsel die getal ekonomiese migrante in die VK sal verminder, sonder dat Britse besighede ontneem word van noodsaaklike vaardighede.

Bank van England hou rentekoerse op 5% - 05/09/2008

Die Bank van Engeland het besluit om rentekoerse te hou op 5%. Dit is die vyfde agtereenvolgende maand wat rentekoerse op die vlak gehou word.

Ontleders is dit eens dat daar 'n groeiende verwagting is dat rentekoerse binnekort gesny kan word, in antwoord op die verlangsaming in die ekonomie.

Here-regte afgestel vir eiendomme onder £175,000  - 02/09/2008

Die Britse Regering het aangekondig dat huiskopers wat eiendomme koop van £175,000 of minder nie here-regte daarop hoef te betaal vir die volgende twaalf maande nie. Die maatreël het die huidige drempel opgeskuif van £125,000 af en is 'n maatreël van die Britse regering om die eiendomsmark 'n hupstootjie te gee.

Volgens die BBC sal dit nou iemand wat 'n huis koop van £175,000 die bedrag van £1,750 spaar. Die koste aan die Britse regering aan verbeurde inkomste uit here-regte is £600 miljoen. 

Die Eerste Minister, Gordon Brown, het gesê dat die maatreëls deel is van die Britse regering se poging om mense te help gedurende die moeilike tye.

Identiteitskaarte vir oorsese burgers - 29/08/2008

Die Britse Regering het aangekondig dat hulle gaan begin om identiteitskaarte uit te reik aan oorsese burgers wat aansoek doen vir verdere verblyf in sekere kategorieë vanaf November 2008. Die eerste kaarte wat uitgereik gaan word, sal wees vir mense wat aansoek doen in die kategorieë; studente en mans, vrouens en burgerlike vennote van persone met permanente verblyf in die VK.

Britse Eiendomsmark verswak - 28/08/2008

Die BBC het berig dat die Nationwide Bougenootskap berig het dat hulle 'n daling in die jaarlikse eiendomspryse aangeteken het. Huispryse was 10,5% laer as in Augustus 2007 en het gedaal met 1,9% gedurende die afgelope maand. Dit bring nou die prys van 'n gemiddelde huis te staan op £164,654, of £19,000 goedkoper as 'n jaar gelede.

Volgens die hoof-ekonoom van Nationwide is daar egter 'n flikker van belangstelling in die eiendomsmark, en sommige kopers gryp die geleentheid aan om groot afslag te bekom. Die koste van verbande met 'n vaste rentekoers het die afgelope weke gedaal en 'n paar van die verbandleners het selfs hul rentekoerse gesny.

Die BBC het verder berig dat die 'Department of Communities and Local Government' gesê het dat dit belangrik is wanneer mens na tendense kyk om in gedagte te hou dat Britse huispryse nou heelwat hoër is as vyf jaar gelede. Hulle het ook gesê dat die huidige probleem in die mark gaan oor die verskaffing van krediet, wat 'n baie anderste situasie is as in die vroeë 1990's, waar die probleem gelê het in hoë rentekoerse en werkloosheid. Volgens die departement is die onderliggende faktore in die mark nog sterk, met 'n lang-termyn vraag na eiendom, lae rentekoerse en lae werkloosheidsvlakke.

Migrasie uit Oos-Europa daal - 22/08/2008

Volgens statistieke van die Britse regering het die hoeveelheid Oos-Europeërs wat na die VK gekom het vir werk, gedaal tot die laagste vlak sedert die lande se aansluiting by die EU.

Syfers toon dat, tussen April en Junie 2008, daar 40,000 aansoeke was vir die Werker Registrasie Skema van burgers van die agt lande wat by die EU aangesluit het in 2004. Dit is die laagste syfer sedert hul insluiting by die EU in 2004, en ook 'n daling van 9,000 aansoeke van die eerste drie maande van 2009. Dit is ook 14,000 laer as vir dieselfde periode in 2007.

Die hoeveelheid burgers van Bulgarye en Roemenië wat aansoek gedoen het om te werk in die VK het ook tot die laagste vlak gedaal sedert die aansluiting van die lande by die EU in Januarie 2007. Slegs 7,005 aansoeke vir die Werker Registrasie sertifikate is ontvang tussen April en Junie 2008, teenoor die 10,860 aansoeke wat ontvang is vir dieselfde periode in 2007.

Rekord hoeveelheid migrante na die VK - 22/08/2008

Die BBC het berig dat syfers van die Kantoor van Nasionale Statistiek in Brittanje getoon het dat die hoeveelheid migrante wat na die VK gegaan het vir 'n jaar of langer, gestyg het tot 'n rekord vlak.

Tussen mid-2006 en mid-2007 het 605,000 lang-termyn migrante in die VK gearriveer. Die syfer is op van 591,000 in die vorige jaar.

Die emigrasie syfer - dit is die hoeveelheid persone wat die VK verlaat, het ook gestyg tot 'n rekord vlak. In die jaar 2006/2007 het ongeveer 406,000 mense die VK verlaat.

Dit beteken dat gemiddeld sowat 1,650 persone elke dag in die VK aankom, en 1,100 die land verlaat.

Visum vereistes kan oorsese studente afskrik - 19/08/2008

Die Guardian koerant het berig dat vise-kanseliers van universiteite 'n beroep gedoen het dat daar verdere samesprekings moet wees oor die voorgestelde nuwe studente-visum vereistes. Volgens woordvoerders van verskeie opvoedkundige instansies kan die nuwe visum vereistes oorsese studente afskrik om in die VK te studeer, wat nadelige gevolge vir die instansies se finansies kan inhou.

Die nuwe visum vereistes wat na verwagting in September 2009 in werking gaan tree, sal van internasionale studente vereis om te toon dat hul genoegsame fondse het om hulleself te onderhou. Die fondse wat vereis word is £9,600 per jaar of £800 per maand en 'n verdere inkome van £535 vir elke afhanklike wat die student vergesel na die VK. Die fondse word vereis afgesien van studie-gelde wat vooraf betaal moet word en soveel as £15,000 kan beloop vir 'n graad-kursus in die wetenskappe.

Volgens die vise-kanseliers, het die regering nie die vlak van hierdie fondse, waarmee 'n student moet kan bewys dat hy/sy hom/haarself kan onderhou met hulle bespreek, voor 'n aankondiging gemaak is nie. Hulle het ook gewaarsku dat die fondse oorsese studente kan afskrik om in die VK te studeer, indien dit nie aangepas word nie.

Britse universiteite is na wat berig word, ook besorg oor die tydskale wat aangekondig is vir hierdie nuwe maatreëls, veral in die lig van die feit dat dit gebaseer is op nuwe sagteware wat op die oomblik deur die Britse regering ontwikkel word.

'n Woordvoerder van die Universiteit van Manchester, het gesê dat die stappe deur die Britse regering 'n impak kan hê op die universiteite se inkomste, en ook 'n persepsie kan skep dat Britse universiteite nie oorsese studente verwelkom nie.

Bank van England hou rentekoerse bestendig - 08/08/2008

Die Bank van Engeland het besluit om rentekoerse bestendig te hou op 5%.

Ontleders is dit eens dan die Bank van Engeland met 'n moeilike besluit sit in die verband - indien hulle rentekoerse verlaag, kan hul beheer verloor oor inflasie. Daarteenoor, indien hulle rentekoerse verhoog, kan hul beheer verloor oor groei en 'n moontlike resessie in die gesig staar. Die hoofdoel van die Monetêre Beleidskomitee is nietemin om inflasie bestendig te hou by 2%, terwyl dit tans op 3,8% is.

Ontleders glo egter dat met die onlangse verlaging in die prys van olie, rentekoerse so vroeg as in November verder gesny kan word.

Seël belasting kan moontlik uitgestel word - 05/08/2008

Die BBC het berig dat die Britse regering die moontlikheid ondersoek om die betaling van seël belasting uit te stel, om sodoende die eiendomsmark aan te wakker.

Die Britse Minister van Finansie, Alistair Darling het gesê dat hy na 'n verskeidenheid van maatreëls kyk om mense te help gedurende die ekonomiese afswaai, maar dat hy nog nie presies besluit het wat om te doen nie.

Skynbaar is een van die opsies wat die Britse regering ondersoek, die moontlikheid is om mense toe te laat om die betaling van seël belasting uit te stel. Dit sal huiskopers ekstra tyd gee om die belasting te betaal, terwyl die regering ook nie die inkomste verloor nie.

Eiendomsagente bemark huise sonder HIPs  - 03/08/2008

Die BBC het berig dat sommige eiendomsagente in Engeland en Wallis eiendomme bemark sonder om die sogenaamde 'Home Information Pack' (HIP) te bestel.

Volgens die wet, moet alle huisverkopers 'n HIP bestel wanneer hulle die eiendom op die mark sit en na 28 dae moet 'n HIP gekoop word. So 'n HIP kos in die omgewing van £300 tot £400. Die idee agter die bekendstelling van die HIP was om kopers inligting te gee oor die eiendom en so die kanse dat die koop deur die mat val te verminder. Inligting wat in 'n HIP ingesluit word is, is onder andere; bewys van die titelakte, onlangse toestemming om te bou, sertifikaat oor die energie verbruik van die eiendom ens.

Volgens die Britse Regsorde, is die HIP in sommige gevalle vir weke na die eiendom op die mark gekom het nie beskikbaar nie. Die organisasie glo dat verkopers lugtig is om te betaal vir die HIPs in die lig van die verswakkende eiendomsmark.

VK huispryse daal  - 01/08/2008

Die Nationwide Bougenootskap het berig dat daar 'n jaarlikse daling van 8,1% was in huispryse. Dit is die grootste jaarlikse daling sedert Nationwide die tipe van opnames begin doen het in 1991. Die jongste maandelikse daling in huispryse was 1,7% vir Julie-maand. Volgens Nationwide het huispryse nou vir nege agtereenvolgende maande gedaal en is nou op die laagste vlak sedert Augustus 2006.

Die gemiddelde prys van 'n huis is nou £169,000, £15,000 minder is as vir dieselfde maand 'n jaar gelede. Nietemin, is huispryse steeds £11,000 hoër as drie jaar gelede.

Die BBC het berig dat Nationwide se hoof-ekonoom gesê het dat die verswakkende ekonomie en lae verbruikersvertroue daarop dui dat die mark nie vinnig gaan herstel nie. Die goeie nuus vir leners is egter dat indien die prys van olie bly daal, dit tot 'n reeks dalings in die rentekoers kan lei.

Intussen het die BBC verder berig dat die 'National Housing Federation' gesê het dat hulle verwag dat huispryse met 25% gaan styg teen 2013. Dit is weens die feit dat die hoeveelheid nuwe huise wat gebou word, nie tred hou met die groot aanvraag na huise wat spruit uit die feit dat mense langer leef, later trou en meer egskeidings voorkom nie.

Dokument oor Vlak 4 vir Studente gepubliseer  - 01/08/2008

Die Britse regering het hul dokument oor die beoogde Vlak 4 van die nuwe punte gebaseerde immigrasie stelsel vir Studente bekend gestel. Dit is die nuwe immigrasie-roete vir persone wat in die VK wil studeer.

Daar word verwag dat die beoogde Vlak 4 die huidige studente visum roete sal vervang in die eerste deel van 2009. Die dokument is egter op die stadium net 'n konsep en die beoogde maatreëls kan nog op enige tydstip verander of aangepas word.

Die nuwe sisteem het as onderliggende basis die beginsel van borgskap. Dit beteken dat elke student 'n opvoedkundige instansie moet kry wat bereid is om hom/haar te borg. Die opvoedkundige instansie moet op sy beurt oor 'n lisensie van die Britse 'Border Agency' beskik om as borg te kan optree. Die opvoedkundige instansie sal ook aan baie streng reëls en regulasies moet voldoen om te kwalifiseer vir so 'n lisensie en sal verpligtinge moet nakom soos om studente aan te gee wat nie aan die reëls van hul studente visums voldoen nie, nie betyds inskryf vir kursusse nie, nie kursusse bywoon nie ensovoorts.

Vir 'n student om te kwalifiseer om te kan aansoek doen vir die Algemene Studente visum, moet aansoekers ten minste 40 punte verdien in twee kategorieë van objektiewe kriteria;

1. Bevestiging dat hul wel aanvaar is vir studies by 'n opvoedkundige instansie - 30 punte.
2. Moet kan bewys lewer dat hy/sy genoegsame fondse het om vir die studies te betaal en vir onderhoud - 10 punte.

Studente wat 'n studente visum kry onder die nuwe Vlak 4 sal steeds deeltyds mag werk gedurende die termyn en voltyds gedurende vakansie-tye. Hulle mag ook afhanklikes saamneem na die VK, mits hulle natuurlik aan die nodige vereistes in die verband voldoen.

Kontak gerus ons kantore vir meer inligting.

Nuwe Voorstelle om gedwonge huwelike te voorkom - 23/07/2008

Die Britse regering het nuwe maatreëls aangekondig om die verskynsel van gedwonge huwelike strenger te bekamp.

Volgens die regering toon hul statistieke dat sowat 30% van die sake wat hanteer word deur hul eenheid wat werk met die slagoffers van gedwonge huwelike tussen die ouderdom van 18 en 21 jaar oud is. Dit het gelei tot die jongste voorstel dat die ouderdom waarvoor iemand kan aansoek doen vir 'n huweliksvisum verhoog word van 18 jaar oud na 21 jaar oud.

Die vyf sleutel voorstelle vervat in die regeringsdokument is;

  • Die ouderdom waarop iemand 'n persoon kan borg vir 'n huweliksvisum moet styg van 18 na 21 jaar oud;

  • Oorsese eggenote sal gevra word om 'n ooreenkoms aan te gaan om Engels te leer alvorens hul na die VK kom;

  • 'n Maatreël word beoog om iemand se toestemming tot verblyf op te skort indien daar bewyse is dat die huweliksroete misbruik word;

  • Daar sal van alle borge verwag word om te registreer dat hul van plan is om oorsee te trou, alvorens hul die VK verlaat vir die troue;

  • 'n Spesiale gedragskode sal ingestel word wat spesialis spanne sal help om kwesbare persone te identifiseer wat moontlik in 'n gedwonge huwelik geforseer kan word.

Migrante moet die reg verdien om in die VK te bly - 15/07/2008

Die Britse regering het aangekondig dat oorsese burgers wat Britse burgers wil word, hul reg moet verdien om in die VK te bly.

Die konsep wetsontwerp op Immigrasie en Burgerskap, wat op 14 Julie 2008 gepubliseer het, sal indien dit goedgekeur word, die tien Wette van die Parlement in die verband vervang en die Regering se planne om die huidige immigrasie-wetgewing indringend te verander wet maak.

Die sleutelplanne wat ingesluit is in die wetsontwerp sluit in;

  • Magte sal aan immigrasie-beamptes gegee word om visums by doeane-poste en lughawens te kanselleer;

  • Daar sal 'n wetlike plig rus op migrante om te verseker dat hul die nodige toestemming het om in die VK te wees;

  • 'n Enkele vaartbelynde mag sal geskep word om diegene wat sonder toestemming is in die VK, te deporteer;

  • Migrante moet nou die reg om in die VK te bly verdien;

  • Volle toegang tot voordele sal gegee word vir burgers en diegene met permanente verblyf, maar migrante sal 'n bietjie ekstra moet opdok vir die koste van plaaslike dienste.

Die Britse regering het bevestig dat nuwelinge in die VK 'n bietjie ekstra sal moet betaal vir plaaslike dienste, alvorens hul burgers word, om 'n fonds te skep om die polisie, skole, plaaslike owerhede en gesondheidsdiensste te help om met die kort-termyn druk van migrasie in hul areas te verlig.

Goeie nuus vir HSMP permit-houers - 11/07/2008

Die Britse regering het 'n beleidsdokument vrygestel waarin hulle effek gee aan die Hof se besluit in die geregtelike heroorweging van die HSMP op 8 April 2008.

Die Hoër Hof het op 8 April 2008 besluit dat migrante wat op die Permit vir Hoogs Geskoolde Migrante (HSMP) was voor 7 November 2006, 'n redelike verwagting gehad het dat die nuwe strenger reëls wat in werking getree het om 'n verlenging van die permit te kry, nie op hul van toepassing sou wees nie.

Dit is baie goeie nuus vir migrante wat hul HSMP permit gekry het voor 7 November 2006, aangesien hulle sal kan aansoek doen vir 'n verlenging van hul permit onder die ou reëls.

Indien jy jou HSMP permit gekry het onder die reëlings wat van toepassing was van 5 Desember 2006, sal jy ongelukkig nie gedek word deur die hof-uitspraak nie en sal die nuwe, strenger reëls vir 'n verlenging van toepassing wees op jou.

Kontak gerus ons kantore vir verdere inligting in die verband.

Nuwe visum-reëls kan ingestel word vir 11 lande - 10/07/2008

Die Britse regering het aangekondig dat streng nuwe visum reëls ingestel kan word vir 11 lande, nadat hulle 'n globale hersiening gedoen het van die lande wie se burgers 'n visum nodig het om die VK te besoek.

Die Visum Vrystelling toets het alle nie-Europese lande getoets teen 'n streng stel reëls om te bepaal wat die betrokke land se risiko is in terme van onwettige immigrasie, misdaad en sekuriteit. Die resultaat van die toets was dat daar 'n sterk saak bestaan om 'n visum-stelsel in te stel vir die volgende lande; Bolivia, Botswana, Brazilië, Lesotho, Maleisië, Mauritius, Namibië, Suid-Afrika, Swaziland, Trinidad, Tobago en Venuzuela.

Die implikasie van die toets is dat die Britse regering visum-vereistes kan instel vir kort-termyn besoekers van hierdie lande, mits die lande daartoe in staat is om te kan bewys lewer dat die risiko wat hulle inhou drasties verlaag is teen die einde van 2008. Indien die lande nie sodanige bewys kan lewer nie, sal hulle moet aansoek doen vir 'n ses-maande visum om die VK te besoek en vinger-afdrukke moet verskaf voor hulle na die VK reis.

Die Britse regering het gesê dat hulle nou saam met die lande sal werk om hulle risiko te verlaag. Indien hulle wel sodanige bewys kan lewer, sal 'n nuwe visum-stelsel nie ingestel word nie. Geen finale besluite in die verband sal gemaak word voor vroeg 2009 nie.

Britse Rentekoerse gehou op 5% - 10/07/2008

Die Bank van Engeland het besluit om rentekoerse te hou op 5% vir die maand.

Die besluit is wyd verwag, ten spyte van oproepe van besighede om die rentekoers te sny, in die lig van die groeiende kommer oor die ekonomiese verlangsaming in die VK. Die BBC het berig dat analiste reken die Bank van Engeland sit met 'n tameletjie in die verband; indien hulle rentekoerse verlaag, kan hul beheer verloor oor inflasie. Daarteenoor, indien hulle rentekoerse verhoog, kan hul beheer verloor oor groei en 'n moontlike resessie in die gesig staar.

Britse Eiendomspryse verlaag in Junie - 10/07/2008

Die BBC het berig dat Halifax, die VK se grootste verbandlener, aangekondig het dat eiendomspryse met 2% gedaal het gedurende Junie 2008. Die beteken dat pryse nou 6,1% laer is as 'n jaar gelede, en wat die gemiddelde huisprys nou op dieselfde vlak bring as in Augustus 2006.

Die gemiddelde huisprys in nou £180,344.

Halifax het egter gesê dat huispryse redelik bestendig behoort te bly, aangesien indiensname vlakke hoog is, rentekoerse steeds laag is en daar 'n tekort aan huise is in die VK.

Ooreenkoms bereik om reistye tussen die VK en die VSA te bespoedig - 03/07/2008

Die Britse regering het aangekondig dat hulle 'n ooreenkoms bereik het met die Amerikaanse regering om reistye tussen die VK en die VSA te bespoedig vir betroubare persone wat gereeld tussen die twee lande reis.

Die Britse Minister van Immigrasie, Liam Byrne, het gesê dat vinnige reistye van die uiterste belang is vir groot finansiële instansties en dat 'n ooreenkoms daarom bereik is.

Hy het ook aangekondig dat 'n dokument gepubliseer gaan word oor hoe die nuwe punte gebaseerde immigrasie-stelsel gaan werk vir diegene wat wil aansoek doen om in die VK se finansiële industrie te werk.

Vlak 1 van die nuwe punte gebaseerde immigrasie-stelsel nou wêreldwyd in werking - 30/06/2008

Die Britse regering het Vlak 1 van die nuwe punte gebaseerde immigrasie-stelsel wêreldwyd in werking gestel op 30 Junie 2008. Vlak 1 sluit die kategorie vir hoogs geskoolde werkers, entrepreneurs, investeerders, sowel as die kategorie vir post-studie werk in.

Die agt immigrasie kategorieë wat verwyder is met die implementasie van Vlak 1 is:

  • Program vir Hoogs Geskoolde Migrante (HSMP);
  • Skrywers, komponiste en kunstenaars:
  • Innoveerders;
  • Besigheidspersone;
  • Regsgeleerdes in self-indiensname;
  • Investeerders;
  • Vars Talent: Werk in Skotland Skema; en
  • Internasionale Graduandi Skema.

Kontak gerus ons kantore vir meer inligting.

Nuwe voorstelle vir kort-termyn besoekers aan die VK aangekondig - 26/06/2008

Die BBC het berig dat die Minister van Immigrasie, Liam Byrne, besluit het om planne te laat vaar om families 'n kontant borg te laat betaal vir familie-lede wat wil kom kuier van buite die EU. Die geskrapte planne het vroeër beoog om families 'n £1,000 deposito te laat betaal om te verseker dat die familie-lede betyds die VK verlaat. Volgens die minister is daar tot die gevolgtrekking gekom dat die planne nie sou werk nie.

Nuwe voorstelle stel nou voor dat families wat oorsese familie-lede borg, boetes van tot £5,000 opgelê kan word of selfs tronkstraf opgelê kan word indien die familie-lede nie hul visum voorwaardes nakom nie.

Ander voorstelle wat deur die Britse regering gemaak is, sluit in:

  • Twee nuwe besigheidsvisums vir sportpersone en vermaaklikheidskunstenaars;

  • Die maksimum periode waarvoor 'n toeriste visum toegeken kan word is ses maande;

  • 'n Appèl sisteem vir diegene wat na die VK kom onder die familie-roete;

  • 'n Nuwe kort-termyn, lae koste groep toeriste-visum om toerisme na die VK te bevorder, en;

  • 'n Visum vir mense wat na die VK wil reis vir eenmalige kulturele gebeure soos die Edingburgh fees.

Teenstand teen voorgestelde Engelse toetse vir eggenotes  - 21/06/2008

Die Guardian het berig dat daar groot teenstand uit verskeie oorde was teen die Britse regering se planne om verpligte Engelse toetse in te stel vir die eggenotes van Britse burgers, wat na die VK wil verhuis om by hul eggenotes te wees.

Volgens immigrasie-prokureurs kan so 'n voorstel die konvensie op menseregte skend, aangesien dit sodanige persone se reg om te trou en 'n familie-lewe te hê skend.

Mense wat deelgeneem het aan die konsultasie-proses in die verband het ook gevoel dat dit beter sal wees vir die mense om Engels te leer waar sodanige klasse maklik beskikbaar is en waar die eggenotes deel kan word van die Britse lewe.

Britse werkers beskik nie oor nodige vaardighede en motivering - 13/06/2008

Die Guardian koerant het berig dat 'n studie wat gepubliseer is deur die Britse Departement van 'Work and Pensions' gevind het dat Britse werkers nie oor die nodige vaardighede en motivering beskik om poste te vul wat die afgelope vier jaar meerendeels deur migrante van Oos-Europa gevul is nie.

Die studie het verder bevind dat die algemene slegte posisie van laags geskoolde werkers, nie die tekort aan beskikbare poste en formele kwalifikasies reflekteer nie, maar eerder kwessies rondom vaardighede om in diens geneem te word, byvoordele en motivering.

Die studie is gedoen in die lig van die aansienlike algemene bekommernis van die publiek dat migrante werkers die poste van Britse werkers ontneem. Die uitslag van die studie het egter hoorsê getuienis van werkgewers ondersteun wat gesê het dat hul oor die algemeen migrante werkers meer betroubaar, produktief en hardwerkend ervaar.

Die studie se uitslag het gekom in die lig van getuienis wat die Britse regering uitgereik het, wat wys dat onlangse migrasie die ekonomiese groei met 0,15% per kapita van die nie-migrasie bevolking laat styg het. Dit is die ekwivalent van £1,650 in verdienste per Britse burger oor die afgelope dekade. Die Britse regering het ook gesê dat beskikbare poste oor die afgelope jaar gestyg het tot 'n rekord hoogte van 680,000, wat 'n bewys daarvan is, dat daar wel poste beskikbaar is vir Britse burgers.

Veranderinge aangebring aan die beroeptekortlys - 06/06/2008

Die Britse Regering het aangekondig dat twee nuwe beroepe bygevoeg is op die beroep-tekortlys en dat twee titels op die lys verander is.

Die beroepe wat bygevoeg is op die lys is 'electricity generation engineers' en 'high integrity pipe welders'. Die veranderinge op die lys is vir 'quantity surveyor' en 'pharmacist (including pre-registration pharmacists).

Vanaf 18 Julie sal die volgende beroepe verwyder word van die lys; 'CAA licensed aircraft engineers' en 'consultant posts in geriatric medicine and rehabilitation medicine'.

Die implikasie van 'n beroep wat verwyder word van die lys, is dat werkpermitte steeds toegeken kan word vir die beroep, maar dat werkgewers nou die poste moet adverteer. Waar die werkgewer dan kan toon dat hy/sy nie 'n geskikte, gekwalifiseerde Britse of EU-burger kan plaas in die pos nie, kan 'n werkspermit uitgereik word aan die nie-EU burger.

Kontak ons gerus vir enige navrae in die verband.

Britse huispryse daal in Mei - 06/06/2008

Die BBC het berig dat volgens Halifax, Brittanje se grootste verbandlener, huispryse met 2,4% gedaal het in Mei 2008. Dit bring die gemiddelde Britse huisprys te staan op £184,111.

Die Nationwide bougenootskap het op hul beurt 'n daling van 2,5% vir Mei 2008 gemeld.

Die hoof-ekonoom by Halifax het na wat berig word gesê dat die daling in huispryse toegeskryf kan word aan die feit dat dit baie moeilik was vir potensiële huiskopers om huise te koop die afgelope jaar weens die vinnige styging in pryse van eiendom, die druk op die bestedingsvermoëns van verbruikers en die daling in beskikbare krediet.

'n Woordvoerder van die Britse Departement van Plaaslike Owerhede het gesê dit is belangrik dat wanneer 'n mens kyk na tendense in die mark, in ag te neem dat huispryse nou steeds sowat 39% hoër is as vyf jaar gelede en dat die probleem tans in die mark die beskikbaarheid van krediet is. Volgens die woordvoerder is die huidige situasie baie anders as in die 1990s toe probleme in die mark te wyte was aan hoë rentekoerse en werkloosheid.

Rentekoerse bestendig op 5%  - 06/06/2008

Die Bank van Engeland se Monetêre Beleidskomitee het besluit om rentekoerse bestendig te hou op 5% vir Junie 2008.

Die besluit was verwag te midde van besorgdheid oor die stygende inflasie-koers, hoewel daar versoeke was vir 'n daling in die koerse om die effek van die verlangsaming van die ekonomie en dalende huispryse te temper.

Die BBC berig dat die meeste ontleders verwag dat die rentekoers onveranderd gehou gaan word vir die volgende paar maande.

Geskoolde werkers nodig in die Britse ekonomie - 02/06/2008

Die BBC het berig dat 'n verslag deur die 'Work Foundation' bevind het dat geskoolde migrante nodig is in die VK in veral gebiede soos die wetenskap, mediese sorg en tegnologie.

Die skrywer van die verslag het ook gesê dat dit belangrik is dat die VK gesien moet word as 'n land wat oop en verwelkomend is teenoor migrante, aangesien enige vyandigheid teenoor migrante maatskappye sal verhoed om migrante in diens te neem. Vyandigheid wat beleef word in die VK sal ook beteken dat geskoolde migrante eerder na lande soos die VSA, Kanada en Australië sal kyk vir werksgeleenthede.

Die verslag het verder bevind dat desnieteenstaande die hoë-profiel immigrasie debat in die VK, die hoeveelheid geskoolde werkers wat na die VK verhuis het, relatief laag is. Volgens amptelike syfers het sowat 167,000 geskoolde werkers na die VK gekom in 2005, maar dat baie meer nodig is as Brittanje wil floreer in die globale mark.

Ongeveer twee miljoen Britte verlaat VK die afgelope dekade - 23/05/2008

Die Guardian koerant het berig dat syfers van die Britse Kantoor vir Nasionale Statistiek daarop dui dat ongeveer twee miljoen Britse burgers die VK verlaat het tussen 1997 en 2006.

'n Ontleder van die 'Public Policy Research' het na wat berig word gesê dat dit die grootse golf van emigrasie was in absolute syfers, hoewel 'n groter deel van die bevolking die land verlaat het in die 1930's en in die middel van die 19de eeu.

Baie van die Britte wat die land verlaat het, het dit gedoen om elders te gaan aftree, hoewel net sowat 6% bokant die ouderdom vir aftrede was. Australië was die mees gewildste bestemming.

Van die Britte wat die land verlaat het, was egter oorspronklik oorsese burgers wat later Britse burgerskap ontvang het en dan weer terug verhuis het na hul lande van herkoms.

Die uitvloei is gebalanseer deur die invloei van sowat 3,9 miljoen migrante oor dieselfde tyd.

Britse regering maak burgerskap statistiek bekend - 22/05/2008

Die Britse Regering het die jongste statistiek bekend gemaak oor burgerskap wat toegeken is in die jaar 2007. Sien die tabel hieronder vir die nasionaliteite met die grootste toekenning van Britse burgerskap in 2007.

 

Nasionaliteit

Hoeveelheid

Persentasie

1

Indië

14,490

9%

2

Filippyne

10,840

7%

3

Afghanistan

10,555

6%

4

Suid-Afrika

8,150

5%

5

Pakistan

8,140

5%

Tekort in aanbod van huise beperk daling in huispryse - 13/05/2008

Die Guardian koerant het berig dat die 'Royal Institution of Chartered Surveyors' (RICS) gesê het dat 'n daling in Britse huispryse deur byna elke eiendomsagent gerapporteer word. 'n Tekort in huise wat beskikbaar gestel word op die eiendomsmark het sover die daling in huispryse redelik beperk.

Data van die Bank van Engeland wys ook daarop dat die leningskoerse op sommige produkte gestyg het, nieteenstaande die feit dat die Bank van Engeland rentekoerse laat daal.

Dit word gesien as 'n aanduiding van die moeilker tye wat Britse verbandleners op die oomblik in die gesig staar.

Bank van Engeland hou rentekoerse bestendig - 08/05/2008

Die Bank van Engeland se Monetêre Beleidskomitee het rentekoerse bestendig gehou op 5% vir die maand van Mei 2008. Ontleders is dit eens dat 'n daling in die rentekoers tot 4,75% verwag kan word in Junie-maand.

Twee-Jaar Werksvakansie word vervang, die einde van die tipe skema's vir Suid-Afrikaners? - 06/05/2008

Volgens 'n dokument wat deur die Britse regering uitgereik is, gaan die huidige twee-jaar werksvakansie skema vervang word met 'n nuwe tipe Jeug Mobiliteit Skema. Dit sal plaasvind rondom die einde van Augustus 2008.

Die nuwe Jeug Mobiliteit Skema gaan werk op die beginsel van balans. Burgers van lande wat deelneem aan die skema sal na die VK mag kom vir twee jaar, mits dieselfde geleentheid beskikbaar is vir jong Britse burgers in daardie land. Elke jaar sal die Britse regering 'n lys van lande publiseer wat kwalifiseer vir die skema, tesame met die hoeveelheid plekke op die skema wat aan elke land toegedeel sal word.

Om te kwalifiseer vir die nuwe skema moet 'n persoon 50 punte verdien;

  • 30 punte kan verdien word vir 'n Sertifikaat van Borgskap. Om hierdie sertifikaat te bekom moet die applikant 'n burger wees van 'n deelnemende land en geborg word deur sy/haar land. Dit word gedemonstreer deur 'n geldige paspoort te hê. Indien die betrokke land nie aan al die kriteria van die skema voldoen nie, moet 'n geldige sertifikaat van borgskap uitgereik word deur sy/haar regering.

  • 10 punte kan verdien word indien die applikant tussen die ouderdom van 18 en 30 jaar oud is, inklusief.

  • 10 punte kan verdien word indien die applikant kan bewys dat hy/sy hom/haarself kan onderhou tot tyd en wyl daar geld in die VK verdien kan word. 'n Syfer van £1,600 word genoem in die verband.

Suksesvolle aansoekers sal toegelaat word om te woon en werk in die VK vir 'n tydperk van 24 maande. Enige tipe werk mag gedoen word, maar die persoon mag nie 'n besigheid begin nie, professionele sport beoefen nie en ook nie werk as 'n dokter in opleiding nie.

Daar sal nog gesien word of daar voldoende maatreëls in plek gaan wees tussen Suid-Afrika en Brittanje, vir Suid-Afrikaners om te kan deelneem aan die skema van die begin af. Dit blyk op die stadium ongelukkig nie die geval te wees nie.

Breytenbachs beveel dus Suid-Afrikaanse kliënte wat wil aansoek doen vir hul twee-jaar werksvakansie visum om ons onverwyld te kontak. 

Britse Werkspermit-skema word vervang met nuwe punte skema - 06/05/2008

Die huidige werkspermit-skema gaan vervang word met Vlak 2 van die nuwe punte gebaseerde immigrasie stelsel. Volgens 'n dokument wat uitgereik is deur die Britse regering in die verband, sal Vlak 2 in werking gestel word rondom die einde van Augustus 2008.

Ingevolge die nuwe skema vir geskoolde migrante, moet 'n Britse werkgewer eers 'n lisensie hê van die 'UK Border Agency' alvorens daar burgers van buite die EU in diens geneem mag word. Gelisensieerde borge sal dan aandui watter migrante van buite die EU hulle in diens wil neem, deur 'n Sertifikaat van Borgskap aan hulle uit te reik. So 'n sertifikaat is egter nie 'n waarborg dat daar wel 'n permit aan die migrant